AUTUMN SALE - USE PROMO CODE: AUTUMN TO RECEIVE 10% OFF ALL SWATCHES

5 Geestelike Waarhede oor skoonheid

Sonja Eloff

So maand gelede het n vriendin my genader en gevra om by een van haar dames oggende te kom praat. Die tema wat sy vir my deurgegee het was; 5 Geestelike waarhede oor skoonheid. Maar hoe meer ek na die topic gekyk het, hoe moeiliker het dit vir my geraak. Sien, dit was nog altyd maklik vir my om voor vrouens te staan en vir hulle te vertel hoe om hulle uiterlike mooi te maak, want ek kan vir hulle se om hulle beste kleure te dra, en ek kan vir hulle vertel om hulle beste style te maak werk en ook dat n tikkie grimering hulle sal laat skitter. Maar geestelike waarhede oor skoonheid, was vir my moeiliker.

Ek moes myself die vraag afvra, wat is skoonheid? Wat is ware skoonheid? En die antwoord was maklik, ware skoonheid kom van binne Sonja. Maar hoe lyk ware skoonheid? En ek dink die probleem was, dat ek net nog nooit hierdie ware skoonheid in myself kon raaksien nie. Ek dink meeste van ons vrouens val maklik vas in die slaggat van vergelyking. As ek maar net soos Susan kan lyk, of aantrek, of wees, dan is ek darem seker daar. Of ek wens ek het soos Susan gelyk en aangetrek ens. God se in Gen1:27 dat ons geskep is na die beeld van God, en dat Hy die vrou geskep het en daarna het Hy na haar gekyk en gese dit is goed. Wie is ons om dan te se dis nie goed genoeg nie? Ek het so bietjie gaan lees en probeer dieper delf in wat is ware geestelike skoonheid en ek het die volgende paar punte gevind:

N Knap vrou:

N knap vrou is n vrou met n sterk karakter. Hoe lyk dit? Sy het integriteit, sy is vasberade en sy het vaste waardes. Sy is lojaal en hardwerkend. Nou kan ons die vraag vra, waarop bou ons, ons karakter? Hoe bou mens jou karakter? Mense het al baie vir my gese, ag moenie bekommerd wees nie Sonja, die struikelblokke wat jy tans in jou lewe ervaar, is alles net God wat jou karakter wil bou. Nou kyk, as jy nou vir my wil kwaad he, moet jy vir my dit se. Ag God bou net bietjie jou karakter. Maar eintlik is dit so waar. Hoe bou mens karakter, deur vasberade te wees, deur te druk, en struikelblokke te oorkom. Ons oortuigings en waardes moet duidelik wees in ons gedrag.

Die tweede ding van n knap vrou is dat sy wysheid het. Ek het myself die vraag gevra hoe lyk wysheid? Wat is ware wysheid? En die antwoord is maklik: ware wysheid is van God afkomstig. Wysheid begin met die dien van die Here. Hoe kry mens hierdie wysheid het ek al gevra? Mens moet soek daarna en bereid wees om te leer. N leersame gees te he. Ons vra vir God vir wysheid, maar moet ook bereid wees om te leer uit ons foute. Gehoorsaam die voorskrifte en leer daarvolgens. En ek dink hierdie wysheid wat van God afkomstig is, kan ons weer help om ons kinders te leer, ons mans te ondersteun en sodoende ook die wil van God uit te leef daagliks.

Die derde ding wat vir my opgekom het van n knap vrou is dat sy talente het. En mens kan dink hierdie is ook n maklike konsep. Ag ons elkeen het ons talente en ons hou daarby ne, en ons is okay daarmee ne? Maar probeer hierdie konsep aan n kind verduidelik, dat weet jy my kind, daai maatjie van jou wat eerste gekom het, het n besonderse talent, en jy is dalk nou nie n hardloop kind nie. Hiermee se ek glad nie dat mens tevrede moet wees as jy nie n bepaalde talent het nie, maar dat dit n moeilike konsep partymaal is om te aanvaar, wanneer ons nie so goed is in iets soos iemand anders nie ne? Ek glo God gee vir ons elkeen n talent volgens ons vermoens. Jesus het in sy gelykenisse gepraat van die talente wat uitgedeel was, en wat elkeen daarmee gedoen het. Ek glo tog as mens jou talente gebruik, sal God jou met meer seen. So moet ons as vrouens weet wat ons talente is, en dit uitleef. Dit gebruik vir God se Koningkryk.

Die vierde punt van n knap vrou, is n vrou wat medelye het. Wat beteken dit om medelye te he met ander mense? Dit is n opregte jammerte of verdriet vir iemand anders se leed, trauma of slegte situasie. Om te verstaan waar iemand is, en jou in hulle skoene te plaas. Hoe baie keer kan ons vingers na ander mense wys, en se ja hulle het dit aan hulle self gedoen. Hulle verdien dit. Dis hulle eie skuld. In plaas daarvan om te probeer verstaan wat daai persoon se storie is, en waar dit vandaan kom. Of wat gelei het tot waar hulle vandag is. Bid vir hulle. Ondersteun hulle in elkgeval.

En ter opsomming het ek die volgende bepaal. Innerlike skoonheid kom van toewyding en eerbied vir God. Haar identiteit le in God. Haar krag en waardigheid kom nie van alles wat sy doen nie, maar wie sy is in God. N vrou wat die Here dien met n opregte hart se skoonheid en aantreklikheid kom van binne. Dis n vrou wat n sterk karakter gevorm het in God. N Vrou wat haar wysheid van God af bid sodat sy haar dag se take kan verrig. N vrou wat omsien na ander met opregte medelye en toewyding. N Vrou wat haar talente en gawes gebruik vir God se Koningkryk. N vrou wat weet wie in haar is. En alhoewel ek nie net n hart het om vrouens mooi te maak van buite nie, het ek ook n hart vir n vrou se hart. Haar binnekant. Dat sy sal weet in wie haar identiteit le, nie in wat nie. En dis iets wat ek moes raaksien. Dat my waarde le in wie ek is in Hom. Dat my krag le in Hom. Dat my skoonheid van binne kom.

Ek wil n kort getuienis met julle deel, ek het Januarie tot die besluit gekom dat ek my hare gaan afsny. Maar soos in kort. Ek moes kleur uit my hare uitsny, en dit het beteken dat ek kort kort moes gaan. En dit was vir my swaar. Dit het gevoel of ek my waardigheid verloor het. My kroon. My trots. En weet julle, daar waar ek myself afgebreek het oor hoe ek lyk, daar het die Here gekom en soveel mense het vir my komplimente gegee oor die korter hare. Mense het gekom en gese ek lyk heeltemal anders. Ek lyk stunning. Onherkenbaar. En min mense weet dat die hare afsny nie net n hare afsny was nie, maar n profetiese aksie wat ek moes doen om te se, Here ek maak klaar met die ou self. Die ou Sonja wat nie geweet het wie sy was in God nie. Die ou Sonja wat op haarself vertrou het. Die ou Sonja wat verlore was. En van daar af het ek soos n nuwe mens begin voel, mense het iets anders begin raaksien. Ek het nog nooit so baie komplimente gekry nie. En mense het regtig gesien dat iets binne my geshift het. En dit was: my skoonheid kom van binne. My lig skyn steeds van binne. Helderder as ooit. Maak nie saak hoe lank of kort my hare is nie, solank mense Jesus binne my kan raaksien, is dit genoeg.

Ek hoop dat hierdie 5 waarhede vir jou iets beteken het, en dat dit jou herinner om te gaan na jou unieke karaktereienskappe en hoe jy dit kan gebruik.

Liefde,
Sonja